Dié doopduet laat ore tuit

Susan Maré

Dit was Sondag omtrent 'n geween en 'n gekners van jong tandvleisies toe 'n halfdosyn babas in Panorama se NG kerk gedoop is. Sê doomnies Laurie Naudé vir die gemeente dit is die eerste keer in die geskiedenis van dié kerk dat ses kindertjies gelyktydig tot doop gebring word.

Daardie ooievaar is seker steeds kapot, maar julle moet sien hoe lyk die mammas met donker kringe om die oë – nog meer kapot. Te oordeel na die geween voor die preekstoel op 'n rustige Sondagoggend, wil ek nie weet hoe gaan die kleintjies snags tekere nie.

Só baie babas voor 'n preekstoel was mos nie in ons oupas en oumas se tyd ongewoon nie. As jy die oumense van daardie tyd so gekyk het, so sedig in hul swart klere met die lang rokke en die fris tannies gekorset en so aan, kan jy nie glo dat hulle so baie kindertjies gekry het nie. Agt, twaalf, selfs meer. En so het hulle hul volk en vaderland gedien en gehelp bou.

Die komponis Bach was ook voorspoedig in hierdie opsig - 20 kindertjies wat glo elke Sondag soos orrelpypies in die kerkbank gesit het as hulle pa die orrel speel daar in Duitsland. Twee mevroue Bach het aan hierdie orrel gehelp bou.

Martin Harris, orrelis van Panorama, moet nou net nie by Bach aansteek nie, wat hy Sondag vir Sondag so mooi speel op die Instrument des Heerens, en al daardie pappas wat Sondag voor die preekstoel gestaan en beloof het hulle sal hul (skreeuende) kindertjies op die regte manier grootmaak.

Ek sê skreeuende. Vererg daar darem 'n klein mannetjie hom toe doomnies Laurie dit durf waag om 'n paar koue druppeltjies water op sy tere voorkoppie te sprinkel. Hy trek sy stembande net daar en dan oop en haal 'n hoë C met soveel gemak dat Pavarotti groen van jaloesie sou wees. En toe die kleine koning van die hoë C eers die akoestiek van die kerk op daardie eerste hoë C ontdek, toe laat hy sommer nog vier, vyf van hulle hoor.

Jy kon in sy sangstem hoor die doomnie het hom nou heeltemal verkeerd opgevryf. Vir elke druppeltjie water 'n ekstra hoë C-gilletjie.

En toe 'n skone eweknietjie in ‘n kantgewaad in haar ma se arms dié geskree hoor, trek sy mos ook daar los. 'n Regte klein divatjie so in Galli-Curci se styl. Daar sing die twee, ``Pavarotti'' en ``Galli-Curci'', toe vir die gemeente so 'n vinnige duetjie. Sy vat die noot op ``soh'' en hy vat hom op ``me'' en toe hou hulle hom vir so 'n paar sekondes vas. Die gemeente het nog nooit so 'n duet gehoor nie.

Doomnies Laurie was al by punt drie van sy preek toe hoor jy nog dofweg hoe maak die twee sangsterre oorlog in die moederskamer. Voor die amen-sé het Klaas Vakie darem saggies ingetree en tot die kapot moedertjies se redding gekom.

Uit: Sandsteenpraatjies in Vrystaat (Oos-Vrystaatse gemeenskapskoerant: Volksblad-groep)

TERUG