Sy fyn oor vir klank laat drome waar word

Susan Maré

DIE meeste ernstige musikante droom heimlik van daardie groot oomblik wanneer hulle hul eie musiek-CD kan vashou met hul hartsmusiek daarop verewig. Om daardie kosbare blink ronde skyf met jou eie musiek ’n werklikheid te maak is dalk meer bereikbaar as wat jy gedink het – die geheim is nie eens ver nie. Dit is nie doer bo in Johannesburg of daar onder in Kaapstad by die groot berg nie. Jy hoef maar net in Bethlehem rond te vra wie Francois (Bok) van Zyl nou eintlik is en waar presies hy sy klankopname-ateljee bedryf.

Die White Feather Recording Studio – een van die beste ateljees in Suid-Afrika, hoe anders? – is hier onder ons neuse op Bethlehem. Dit is ’n klankopname-ateljee waarop die dorp trots kan wees.



Francois vertel dit het alles by sy band begin wat hy vroeër as ’n leerling aan die Hoërskool Voortrekker op Bethlehem bedryf het. Hy het op sy tyd ’n bietjie klassieke kitaarlesse geneem en hom later in dié band uitgeleef. Die eintlike gogga het hom gebyt toe die band ’n opname in Johannesburg gaan maak en daar met dié ervaring vir hom ’n hele wêreld oopgegaan het. Dit was sy eerste kennismaking met ’n professionele klankateljee en die ervaring het verras. Hy het dadelik geweet dit is wat hy ook eendag wil en gaan doen.

Die afgelope ses jaar is hy ná ure baie bedrywig om CD’s op te neem in sy professioneel toegeruste opname-ateljee op ’n kleinhoewe op die Eden-pad buite Bethlehem. Dit is nie sommer enige ateljee dié nie. Met verloop van tyd het Francois sy ateljee slim ingerig en net die heel beste toerusting aangeskaf. Om dié stokperdjie te kan uitleef en terselfdertyd gehaltewerk te lewer moet jy nie net op die voorpunt van die tegnologie wees nie, maar jou ateljee fyn beplan en perfek afrond. Die ateljee bestaan uit ’n kontrolekamer en ’n spesiaal toegeruste opnamevertrek wat klankdig is. Die twee vertrekke word met ’n glaspaneel geskei. Francois het die opnamevertrek versigtig met houtpanele en akoestiese sponspanele ingerig. Laasgenoemde het hy spesiaal van oorsee ingevoer en dit was ’n peperduur uitgawe. Dié opname-vertrek huisves ook ’n hele klompie ander onsigbare geheime om van dit ’n unieke vertrek te maak – alles daarop gemik om ’n perfekte opname-ateljee te skep waarin solo-kunstenaars, klein koor- en/of orkesgroepe hul musiek in die regte atmosfeer kan uitvoer om op CD vas te lê.

Francois sê dit is ’n duur speletjie hierdie – as ’n mens op die voorpunt van die tegnologie wil wees en gehalteprodukte wil lewer, moet jy jou sak gereeld skud om die beste toerusting aan te skaf.

Die opnames is dikwels dae en nagte se werk. Van die klankingenieur verg dit die allerfynste gehoor wat deur ervaring en algemene kennis in die musiekbedryf gerugsteun word. Musiek is driedimensioneel – die klank werk op en af, vorentoe en agtertoe. As klankingenieur is dit sy werk om die balans reg te kry deur die musiek met sy oor as maatstaf kunstig en met logika te vermeng. Jy moet kan hoor waar pas wat en moet ook individueel aan elke stem of instrument kan werk.

Die klankingenieur moet veral musiekgenres goed ken. Om dit te ken is dit nodig om gereeld met ’n wye en ontvanklike oor na musiek te luister. Dit is ’n belangstelling wat later ’n lewenswyse word. ’n Klankingenieur wat sy sout werd is, kan na enige opname in enige genre luister, van operamusiek tot rock, en dadelik weet en hoor of dit ’n geslaagde opname is. Francois sê hy het ’n wye musieksmaak en gunstelinge in verskeie genres.

Elke ateljee het sy eie truuks. Francois sê hy het al baie musiekstyle in sy ateljee gehanteer. Dit is nie sy werk om kunstenaars voor te skryf oor hul genres of musiekvoordragte nie, maar om hulle tevrede te stel met die produk. Vir ’n kunstenaar is die geheim en ’n vereiste om ’n gehalteproduk te lewer weer om baie goed voorbereid na die ateljee te kom.

’n Bekende kunstenaar wat die afgelope tyd bedrywig is om liedjies by Francois se ateljee op te neem vir ’n toekomstige CD – André-Michael – sê hy het ervaring van vorige CD-opnames elders in die land, maar het op Bethlehem by die White Feather Recording Studio die heel beste klank en ondersteuning nóg by ’n opname-ateljee gekry.

“Ek dink nie ons besef wat ons op Bethlehem in Francois het nie. Enigiemand wat droom oor ’n eie CD kan maar weet ons het in ons midde die beste geleentheid. Dit is verstommend wat Francois regkry en om te ervaar hoe hy individuele stemme of klanke met sy fyn oor en tegniese kennis tot betowerende eindresultate vermeng. Een van die CD’s wat ek elders in die Kaap laat opneem het, steek af teen die gehaltewerk wat ek by Francois kry. Ek hou ook daarvan dat Francois ’n argief bedryf waarin elke kunstenaar se voordragte (of stempartye of orkeslyne) individueel geberg word. ’n Mens kan altyd weer teruggaan en daaraan werk.”

Francois het sy eie toekomsdrome rondom die White Feather Recording Studio en hoop hy kan daardeur groot waarde tot die musiekbedryf toevoeg.

Pro Arte Produksies tree as agent op vir die White Feather Recording Studio. Enigiemand wat opnames wil laat maak kan van hulle laat hoor. Bel Susan Mare van Pro Arte by 083-469-1597 of rig 'n elektroniese navraag aan susan333@telkomsa.net

TERUG