Gô vir ander dinge

Susan Maré

Soggens vroeg as ek rustig kantoor toe ry, wonder ek waar ek die pad byster geraak het.

Waar het ek die res van my ou hardlopende en stappende sportmalvolk verloor?

Dan sê ek vir myself: Hier sit jy heerlik en so ver as wat jy ry, kom hierdie vroegmôre-stappers met hul lenige lywe en swaaiende heupe by jou verby.

Bloedrooi in die gesig en die ene sweet en vermoeienis. Jy sien dis groot, groot uitputting dié, maar jy’s regtig nie lus daarvoor nie.

Die stappers het waarskylik daar bo by die vliegveld aan die Durban-kant van Bethlehem gaan draai om eindelik, kilometers verder, uitasem by hul huise aan die Bloemfontein-kant van die dorp uit te kom. Stralend van gesondheid en energie. Maer se moses. Die slaaiblaar-brigade. En as hulle jou sien, waai en swaai hul arms soos van vriendelikheid.

Dié stap moet tog ‘n goeie ding wees, dink ek skuldig toe ‘n gryskop-vrouedokter soos ’n jong atleet vanoggend teen ‘n asemrowende spoed by my verbystap.

Sy weet dinge oor fiksheid wat ek nie weet nie, sê ek vir myself.

Eendag is eendag, dan lê jy dinges-oor-kop in ‘n hospitaal, dan’s jy nie fiks nie en dan’s dit net masjiene en pype om jou aan die gang te hou.

Dan gaan jy terugdink aan daardie oggend toe die dokter die voorbeeld gestel en by jou verbygesweet het.

Jy gaan spyt wees omdat jy nie ook maar gaan “gym” het nie of vir jou ‘n bergfiets met sulke windgat-hengels aangeskaf het nie.

Ek sit op ‘n dag nog salig en huisies teken in die sub A-klas toe die prefekte en ‘n onderwyser instorm en met kwaai stemme beveel: “Almal in dié klas gaan Vrydag aan atletiek deelneem. Nie een gaan weier nie. Ons skryf julle name op en as julle nie Vrydag aanmeld nie, dan…”

Ek skrik my boeglam.

Hulle skryf ons name op en deel ons in spanne.

Ek word vir die groen span gekies.

Toe “speeltyd” aanbreek, jaag die prefekte ons sub A’tjies in ‘n verwilderde bondeltjie saal toe vir die liedjiesing-deel van die atletiek.

Ons sing: “Die besem (2x), wat maak ons daarmee (2x), ons vee daarmee (2x), die bloues in die see.”

Twee groot kinders op trekklaviere begelei ons en nog twee skud tamboeryne.

Die besem-liedjie en ek het nie die toets van die tyd deurstaan nie.

Dis mos ‘n heel moderne aanslag wat die kinders deesdae op die paviljoen het met: “We will, we will rock you.”

Lank vergete is die dae toe spanne op atletiekbyeenkomste met trekklaviere en tamboeryne begelei is.

Die rasieleiers van vandag met hul ál skrapser gewade sal hulle seker ‘n papie lag oor toentertyd se modes van keilhoede en tamboernooientjie-agtige uitrustings.

Maar wat die atletiek betref, kon ek nog nooit verstaan hoekom mense so daarvan hou om hul gô’s uit te hardloop nie. My gô was duidelik vir ander dinge bedoel.

My eie atletiekloopbaan het stil gesneuwel voordat dit kon begin. Ek het kleintyd al geweet die enigste wedlope wat ek ooit sou kon hardloop, is toonlere op ‘n klavier se toetsbord.

Jy kon my enige afstand laat hol: D-majeur opgaande, afgaande, op-en afgaande, en ek sou hom hol. Rekordtye. Olimpiese tye. Later kon ek dit ook regkry om die “Comrades-marathon” van ‘n Bach-fuga op ‘n pyporrel suksesvol genoeg af te lê om ‘n belangrike orreleksamen te slaag.

Moet my net nie op ‘n tartanbaan neersit nie. My bene kon nog nooit lekker oor ‘n atletiekbaan beweeg nie. Nie eens wegsspringblokke van suiwer goud sal my vinnig by die wenpaal kry nie.

My eintlik probleem met die atletiek in sub A was die afsetterspistool. Ek het gesien wat ‘n koeël aan ‘n bees doen as my oupa Fanie een omklits – oë wat dof oormekaar begin kyk, bene wat begin wankel en daar sak die dier inmekaar. Kapoet.

En ek wou nie al in sub A sneuwel nie. Daardie jare se sub A’s was nie so ougat soos vandag se gr. 1’s nie. Ons was nie televisieverslaaf en al die moderne dinge nie.

Ek was ook vas aan Pa en Ma en Juffrou Volschenk en het boonop vir ‘n pop in die handelshuis se venster gespaar. Skielik doodgaan op ‘n atletiekbaan op Petrus Steyn se skouterrein was nie my idee van die lewe nie.

Toe oom At de Wet, aankondiger, my naam dié Vrydag oor die luidsprekers vir die “100 treë dogter ses jaar en onder” uitlees, was ek lankal nie meer daar naby nie. Ek was veilig in my pa se bruin Austentjie agter die paviljoen waar ek myself in ‘n bondeltjie op die vloer opgetrek het.

Vaagweg, net voordat Klaas Vakie my van die harde afsetterpistoolskote verlos het, het ek gehoor hoe oom At my naam ‘n tweede, ‘n derde en selfs ‘n vierde  keer met ongeduld uitlees.

Hulle wag nou nog vir Susan Maré by die wegspringplekke.

TERUG