deur Susan Maré BACH in 'n township op 'n reënerige aand in die Oos-Vrystaat. Die Klassieke Musiekfees in Clarens kon nie op 'n beter noot begin het nie as met Johann Sebastian Bach se Wysie op die G-snaar. Was Bach al ooit so soet op die oor met die reuk van 'n nat dekgrasdak in jou neus? Strykstokke wat eers rustig gly oor snare en konsertgangers se vyf sintuie op 'n buitengewone ervaring instel. En saam met die reënseën daar buite die donderweer wat met sy bastone en sweepslae 'n ekstra instrument word. Nie meer die Odeion-strykkwartet daar voor op die verhoog nie, maar 'n eiesoortige kwintet saam met die reën. 'n Geskiedkundige aand inderdaad. Waar daar vroeër in dié township net veld was met die asemrowende uitsig op die Rooiberge, is daar rye en rye shacks en piepklein huisies waarin mense bly. En skielik een aand luister hulle met verwondering hoe die musiek van vreemde en ver wêrelde oor die township weerklink. Om in stortreën by die gemeenskapsaal uit te kom waar die fees gehou word, moet jy bereid wees om geduldig oor ongemaklike hobbels en deur slote te ry. Eers in die foyer kom jy agter die lelike eendjie het 'n konsertswaan geword. Die saal bied vanaand alles wat selfs die Johannesburgse stadsaal jou kan bied: dekor, beligting, klanktoerusting, 'n regisseur en organiseerders wat rondhardloop, kunstenaars wat met dringendheid stemme opwarm of snare instem, die opgewonde stemgedreun van konsertgangers en kameras wat flits om spesiale oomblikke vas te vang. Van die strykkwartet na die vitale klassieke kitaarritmes van twee meesterkunstenaars. Virtuosi. Polsende musiek met ingewikkelde ritmes. En Wessel van Wyk, konsertpianis, onbepland begelei deur die natuur se simfonieorkes. Jesus, vreugd’ van ons verlange - nog 'n Bach op dié uitsonderlike aand. En die orkes wat daar buite woed en sweepslag. Later stort hy sy druppels reën deur die grasdak oor die vleuelklavier uit terwyl Wessel se vingers 'n Scarlatti-sonate oor die klawers uitdartel. Maar dalk is dit al die tenore wat werklik die gehoor se hart steel. Ons Eie Drie Tenore. Jannie Moolman aan die spits. Nessun Dorma. Funniculi, Funnicula. O Sole Mio. En op 'n Vrydagaand in 'n township op Clarens sit mense wat lief is vir mooi musiek salig agteroor met toe oë en luister na al die melodieë wat oor hulle spoel - fyntonnie-wysies soos wat die digter Boerneef sou sê, wat al die wêreld se narigheid wegvat terwyl grootgroot-liedere hul hande om jou vou. Uit: Sandsteenpraatjies in Vrystaat (Oos-Vrystaatse gemeenskapskoerant: Volksblad-groep).
|

