Susan Maré MIMI COERTSE laat 'n mens altyd aan rooiwyn dink. Soet en deurseënd. Rooi muskadel, sou ek sê. En rooiwyn, het Marthinus Versfeld eens gesê, is op 'n hoë vlak simbolies van 'n strewe om weer 'n onbesoedelde blouwit aarde te bewoon, om die lewe te bevorder nie ter wille van die trillende protoplasma self nie, maar vir die waardes wat hy kan uitleef - die geestelike wat hy in hom omdra. Nou die aand toe Mimi die ronde koepel van die NG kerk Bethlehem-Wes met haar soet, beleë stem vul, het 'n mens geweet jy is nou by 'n hoë geestelike musiekwaardes: Mimi is steeds Mimi, en hoe ouer, des te beter. Vir my is Mimi se stem soos 'n donker, robynagtige wyn, sag soos fluweel, waarvan die smaak traag, soos wierook in 'n kerk, aan die verhemelte bly hang. Die konsert in Bethlehem was al lankal verby, ag, dit was al ounag, toe hoor jy nog die naklank van liedere soos die lenterige Im Prater Blüh'n wieder die Bäume, Wene, stad van my drome en O mio babbino caro van Puccini. Eens toe die rabbi's van die Bybel simposium oor wyn gehou het, het hulle 'n paar belangrike dinge kwytgeraak, soos dat die wyn wat vir die regverdiges in die hiernamaals gehou word, sedert die ses dae van die skepping nog in die korrel gebêre word, het André P Brink geskryf. Veroudering, het dié rabbi's in die Talmoed in 'n oop gesprek bepleit, is belangrik. 'n Baie ou wyn, het hulle gemeen, bevoordeel die hele gestel. 'n Alledaagse goedkoop wyn, volgens hulle, benadeel weer die ingewande. Daarom dat die wyn wat Josef vir pa Jakob gestuur het, die "beste van Egipte" was. Daar is ook 'n natuurlike verband tussen wyn en musiek, het die rabbi's gesê. Wyn en musiek verheug nie net die hart nie, maar 'n musiekkonsert op 'n wynbaket is soos 'n edelsteen geset in 'n goue ring. Soos 'n smaragseëlsteen in goud geset, so gaan die melodie van musiek en goeie wyn saam. Nou hoe beskryf mens Mimi se rooiwyn? Nee, dit is nie 'n algemene rooiwynsmaak wanneer jy Mimi se musikale vog oor jou tong laat rol nie. Hy smaak iets net anders. Hy smaak pure Suid-Afrikaans en na S. le Roux Marais wat die rooidag in jou wil kom wakker maak - verfrissend soos die musiek van hoë kerkorrelnote, of hy slaan jou met 'n heimwee na iets ver, iets of iemand onbekend waarna die hart verlang. Dié rooiwyn verteenwoordig 'n veelsydige edeldom: Soms smaak hy pure Oostenryks, soms Hongaars soos in Dvorak se Als die alte Mutter' en soms Noorweegs soos in Grieg se patriotiese An das Vaterland. Mimi sing herinnerings in jou los wat jy nie kan verwoord nie. Met Afrikaanse liedere soos Rooidag, Heimwee, As ek moet sterwe, liefste en die sewe pittige Boerneef-liedere, het Mimi gewys dat sy as Lieder-sanger nie maklik haar gelykes in dié land het nie en dat 'n leeftyd se sangervaring haar steeds rugsteun. Dié liedere, beleë en deursing, is deel van 'n edeldom van liedere waarmee dié sangeres altyd sal verbind. Dit is liedwyne wat nie net die druif op 'n mens se tong aanwakker nie, maar in sy nasmaak steeds esteties bevredig. Mimi is natuurlik net Mimi. 'n Mens kry haar maklik lief. Sy steel 'n mens se hart met haar liefde vir die lewe en vir mense, en met haar warm (soms onmoontlike) persoonlikheid. Min mense is gelukkig om so méns te wees soos Mimi. So gemaak, so gelaat staan. Sy's niks om weg te steek nie en 'n mens vat of los haar nes sy is. Dit is haar vlymskerp humor wat lank nadat 'n mens saam met haar en gawe vriende gekuier het, nog vir binnepret sorg. So vertel sy van 'n vriend, wyle Siegfried Mynhardt, wat tog so lief was vir 'n sekere seweletter-woord (Engels) en hoe dit sy vrou altyd gepla het dat hy dit sonder skroom voor die kinders sê. "Siegie", fluister sy op 'n dag, "jy moet asseblief ophou om "x%*#&! so voor die 'c-h-i-l-d-r-e-n' te sê." Daar was ook die keer to Mimi in haar vinnige Duitse motor voet in die hoek gelê het om betyds te probeer wees vir 'n afspraak in Johannesburg. Nie ver uit Pretoria nie, keer die spietkop haar voor, vertel sy. Hy haal sy pienk boekie uit en staan kop onderstebo langs die Koningin van die Nag se vinnige blits. "Naam?" "Mimi Coertse." "Dame, ek vra jou naam." "Mimi Coertse," sê sy weer. "Dame, ag moet nou nie my tyd hier kom staan en mors nie. Náám, asseblief." "Mimi Coertse." "Ag, dame, as JY Mimi Coertse is, is ék Gé Korsten..." Ons groet Mimi Sondag ná 'n wonderlike naweek. Dit was 'n veeleisende naweek, moenie 'n fout maak nie. Om genoeg konsertkaartjies te verkoop in die huidige ekonomiese klimaat en steeds in die "groen" te eindig, is geen grap nie. Toe die bekroonde Kammersängerin van Wene daar onder om die draai vlieg in haar vinnige motor, vinniger as rooiwyn én S. le Roux Marais se Rooidag, dink ek aan wat die Franse skrywer Rabelais eens gesê het: "My Head akes a little, and I perceive that the Registers of my braine are somewhat jumbled and disordered with this sweet Octoberal Juice." Uit: Stop van Myne, vroeëre ‘n rubriek in Volksblad.
|

