Susan Maré MONTSERRAT CABALLÉ, daardie formidabele Spaanse sopraan en 'n interessante reïnkarnasie van haar oorlede vriend Freddy Mercury van die Queen-popgroep in Engeland het Vrydag- en Saterdagaand geskitter op die verhoog van 'n buurdorp. Ja, daardie kleine nedersetting net hier anderkant Meyerskop op die N5-roete - bekend as ``die stadjie Paul Roux'' - was in rep en roer en die ou Smitsaal se dak het kort-kort op en af gelig van al die jille, gekap op die staaltafels en voetestamp. Al die ``has beens'' onder 60 jaar en die ``jonges'' net bo 40 het op die Smitsaal se verhoog hul Franse talente uitgehaal en gecan-can met hoë opskoppe tot wie weet waar. Daar is heel aand gedans en gerittel en gesing. Eenkant in die saal het ds. Poena van der Merwe se voet die heeltyd op en af getik op die vloer soos hy sy gemeente gadegeslaan terwyl sy oë plesierig blink. Sondag se preek was nie naastenby in sy gedagtes nie. Die kersie op die koek was sekerlik afrigter Nanna Brits, ekskuus, Montserrat Caballé. Getooi in 'n operarok van goud en onder die rok in haar ma se ou borsrok van jare gelede ingewikkel en lywig opgestop soos 'n ware operasangeres. Bolangs ekstra opgestop met manlief Gert se rugbykouse. Toe trek sy los met Freddy langs haar en gil daar 'n klomp hoë C's wat die ware Montserrat sommer groen van jaloesie sou gemaak het. Theuns Jordaan was ook daar. Of was dit dalk Hennie van der Walt? Daar was ook Paul Roux se eie Drie van die Bestes, die Grafsteensangers, Cutt Glas . . . Dié oorspronklike groepe sal hul sokkies na dese moet optrek. Moet nooit weer vir Paul Roux onderskat nie. In tye waar almal depressief en hoed-oor-die-kop is oor die ekonomie, munisipaliteite en ander ``monstrositeite'', vat hulle hande en hou vrolik konsert. As dié optrede darem nie werk soos antidepressante nie . . . Paul Roux sal seker nooit weer dieselfde wees nie. Barcelona ook nie. Uit: Sandsteenpraatjies, weeklikse rubriek in Vrystaat (Oos-Vrystaatse gemeenskapkoerant: Volksbladgroep).
|

