Gehalte Sondagoggendkonserte in Bethlehem

Eerste konsert op 1 Maart

LIEFHEBBERS van gehalte- klassieke en ander musiek kan nader staan. Gereelde Sondagoggendkonserte word van 11:30 tot 12:30 in die Anglikaanse Kerk- St Augustines in Bethlehem aangebied.

Susan Maré, orrelis van die kerk en direkteur van Pro Arte Produksies reël die konserte met die Anglikaanse Kerk as gasheer en die doel daarvan is om klassieke en ander goeie ligte musiek te bevorder. Die konserte bied aan Oos-Vrystaatse kunstenaars ‘n spesiale geleentheid vir optrede.

Susan sê: “Musiek kry eers betekenis en substansie as dit met ander mense gedeel word. Oos-Vrystaatse musiekliefhebbers was nog altyd bekend vir hul musiekuitlewing, maar ongelukkig was die owerheid in die nuwe Suid-Afrika die Westerse uitlewing van ’n klassieke musiekkultuur minder goedgesind. Klavieronderrig en klasmusiek het ná 1994 gou uit skole verdwyn en bygedra om musiek in ’n oorlewingskrisis te dompel en só die ryk kultuurlewe wat daar was te verarm.

“Bethlehem was dekades lank landwyd bekend vir koor- en massakooruitvoerings onder leiding van die bekende dirigent en musiekopvoedkundige Andries Wassermann. Sy liefde en werk rondom koormusiek het in sy loopbaan as orrelis en onderwysman selfs nasionaal uitgekring en talle oudkoorlede en musiekliefhebbers hunker steeds terug na onvergeetlike oomblikke wat rondom koor- en ander musiek beleef is.

“Nog van altyd beskik die Oos-Vrystaat as geseënde streek oor uitmuntende kunstenaars. Caryn Reed van die Hoërskool Voortrekker op Bethlehem is in 2007 gekroon as wenner in Sanlam se nasionale klavierkompetisie het al haar talent met musiekliefhebbers in die Anglikaanse Kerk gedeel. Ander kunstenaars soos Nico Hoogendoorn van Fouriesburg en voormalige dirigent en leier van die Vrystaatse Koperblaasorkes (tromboon), Marthie Mynhardt van Kestell (klavier, orrel, en ander instrumente), Johan Brink, ook van Kestell (trompet), Wim Wybenga van Clarens (viool), Donvé Fullard (pianis) van Clarens, Rolf Busch van Bethlehem (klavier), Angelica Charilaou van Reitz (klavier), Anette Oosthuizen van Bethlehem (sopraan) en vele ander verdien ’n spesiale verhoog vir optrede. Pro Arte is die agent vir sommige van hierdie kunstenaars en kan genader word om hulle te nooi vir konserte.

Die Anglikaanse Kerk in Louwstraat in Bethlehem het ‘n intieme atmosfeer en bied sitplek vir slegs 120 mense. Konsertkaartjies kos R20 per persoon om dit ook vir pensionarisse wat lief is vir musiek toeganklik te maak en is voor elke konsert by Libri Boekwinkel in Louwstraat beskikbaar. Die sandsteenkerk is ‘n nasionale gedenkwaardigheid met ‘n uitstekende akoestiek en goeie regopklavier asook ‘n kleinerige pyporrel. Een van die bekorings in die kerk is die loodglasvenstertjies en ongeskonde behoud van die besonderse argitektuur vir die afgelope 100 jaar. Die kerk is deel van ‘n sandsteentriologie reg langs mekaar as nasionale gedenkwaardighede – glo die enigste geval in Suid-Afrika waar drie gedenkwaardighede van sandsteen reg langs mekaar in een straat staan.

Die eerste Sondagoggendkonsert is op 1 Maart en kunstenaars wat gaan optree is Martie Mynhardt, pianis van Kestell, Esther Wolmarans, Alpeklokkies, ook van Kestell, en Nellie Kotzé (sopraan) en Sampie van Vuuren (tenoor) as duetpaar, van Bethlehem, sal optree.

Kunstenaars wat graag gratis in die kerk wil optree vir die liefde van die saak is welkom om met Pro Arte in verbinding te tree. Kunstenaars sal wel ‘n honorarium ontvang vir brandstofuitgawes.


TERUG