Ta' Grietjie gaan vir Mbeki 'koel' sing

Susan Maré

TANT GRIETJIE van Garies wil glo vandag -- as die Here haar lewe spaar en haar gesondheid hou - pres. Thabo Mbeki koel sing wanneer die president die dorpie Steinkopf besoek om daar te gaan imbizo (praat met die mense).

Sy sal hom "opgestaan en ingespan" inwag met haar liedjie Dis 'n lekker Ou-Jan en sommer ook haar eerste CD - Lekker Ou-Jan se Ma - aan hom oorhandig vir 'n vroeë Krismisboks. Hy kan na die liedjies op die CD luister as die mense hom kwaad maak: "Hy sal dadelik voetjie klop en die hart sal ook sommer afkoel."

Ta' Grietjie, ek wil u nou nie slegte moed inpraat nie, maar as dit kom by plaaslike regering sal dit meer as Lekker Ou-Jan se Ma kos om die president te laat voetjie klop. Om nou maar één knelpunt in sy roemryke loopbaan teenoor u daar in u se Garies te noem.

Nietemin hoop ek die presidensiële kuiertjie verloop goed en Tannie se gesondheid hou.

En dalk kan Ta' Grietjie-hulle ná die okkasie sommer die president as eregas in 'n bus laai vir 'n besigtingstoer deur Garies met Butch James, kookwater-losskakel van die Natalse Haaie, agter die stuurwiel. Ek weet net nie wat die uitkoms gaan wees nie en of daar ná dié rit nog heel blompotte met Namakwalandse daisies gaan wees nie. Nou die dag in Margate het ou Butch glo in 'n bus geklim met oumense in die bus, begin ry en die pale misgery. Sy korrel was glo ‘n bietjie uit.

Maar dit is nie my of Tannie se probleem nie. Gariestoerisme en daardie vrotmelkmagnaat, Adriaan Nieuwoudt, sal seker opdok.

Ek moet Tannie komplimenteer dat u u se talente nie onder 'n maatemmer begrawe nie en op 77 jaar nog so kookwater is. Die meeste mense is teen daai tyd óf reeds by die langboompies afgelaai óf hulle sit êrens op 'n ouetehuis se stoep en mymer. Wie van hulle kan nog soos Grietjie Adams landwyd sanguitvoerings gee op kunstefeeste en CD's maak om 'n staatspresident te laat voetjieklop?

En kyk net waar trek die imbizo-tedoe ook al. Van Wyk 9 in Dihlabeng in Bethlehem tot by Steinkopf doer ver.

Haai, Ta' Grietjie moet maar hier ook kom sing, asseblief. Ons reël vir Tannie 'n konsert in die Moederkerk se Jongeliedesaal ten bate van die al die vigswesies. En ná die tyd skoffel ons die nag in tot dagbreek.

Die mense hier rond is maar vaal en platgeslaan deur die nuwe Suid-Afrika.

Hulle is nie sulke lekker Ou-Jans soos daar in Garies nie.

Uit: Sandsteenpraatjies, weeklikse rubriek in Vrystaat (Oos-Vrystaatse gemeenskapskoerant: Volksblad-groep).

TERUG