Vokale potpourri ’n groot treffer
Alida Steyn
Die vokale potpourri onlangs in die Anglikaanse kerk St Augustine was weer ’n belewenis vir konsertgangers – ons het nou al gewoond geraak het aan dié maandelikse konserte.
Die musiekprogram van die maand in die Anglikaanse kerk in Louwstraat – ’n nasionale gedenkwaardigheid met sy loodglasvensters, sandsteen en brandende kerse – het ’n groot verskeidenheid gebied en die kerk het die perfekte atmosfeer verskaf.
Sewe sangers en drie begeleiers van Bethlehem hul talente tot Susan Maré se beskikking gestel om musiekliefhebbers se lewe te kon verryk. Baie dankie, ons waardeer dit en is trots op elke kunstenaar. Dieselfde program sou net so in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein aangebied kon word en ons sou met reg van trots kon pronk soos poue.
Annette Oosthuizen en Beulah van Aswegen
Anette Oosthuizen (sopraan) met Beulah van Aswegen as begeleier het die gehoor op sy voete gehad met onder meer Malie die slaaf se lied en As ek moet sterwe van S. le Roux Marais, asook Oktobermaand van John Pescod. Anette is voorwaar in ’n klas van haar eie soos wat haar vertolking en hantering van hoë note in Holde sachte Nacht van Mozart getuig het.
Haar voordrag was professioneel en haar stem moet meer dikwels gehoor word.
Jeannette Jacobsz en Francois Fourie
Die immergewilde Jeannette Jacobsz (sopraan) het Alleluja van Anneli van Rooyen gesing en saam met Francois Fourie (tenoor) het hulle ook die bekende Afrikaanse Onse Vader met ’n treffende diskant deur Jeannette, asook The Prayer van Celine Dion, gesing.
Jeannette was ook die begeleier vir Francois met ’n Medley of Love songs uit die jare vyftig. Pragtig!
Francois het selfs sy falsetto ingespan en sy natuurlike begaafdheid en musikaliteit as sanger weer beklemtoon.
Die elektroniese begeleiding waarvan hy en Jeannette gebruik gemaak het, was hoogs professioneel en die gehoor kon hul sang sonder steurnis geniet. Maak asseblief ’n CD!
Jaritha Pienaar
In ’n ligter luim het Jaritha Pienaar (sopraan), ’n vorige wenner van die Spontaankompetisie van die Volksblad-kunstefees, met haar besonderse styl en musikaliteit ook ’n musikale band met die gehoor gevorm. Die sanger Nianell sou tevrede gewees het met haar vertolking van Sal jy onthou? So ook die liedjieskrywer Johan Groenewald uit Worcester se wêreld met Jy is my somer.
Josh Groban se When you say you love me het tot almal gespreek en Frank Sinatra se New York, New York het bewys dat ’n sangruiker ook sy veldblomme kan bevat! Dankie vir so ’n bederf, Jaritha.
Drice Rossouw
En wat ’n aangename verrassing het op die gehoor gewag toe Dricé Rossouw (sopraan), begelei deur Hansie Jordaan, meer as reg laat geskied het aan Johann Strauss se The Nun’s Chorus. Sonder ’n mikrofoon het sy ’n suiwer en klokhelder geartikuleerde vertolking gelewer. Haar vol en ronde stem moet beslis meer op die verhoog gehoor word.
Nellie Kotze en Sampie van Vuuren
’n Sangpaar wat vroeër saam in Danie Hyman se Vrystaat Sangers gesing het hierna hul besonderse deel tot die program bygedra.
Nellie Kotzé (sopraan) en Sampie van Vuuren (tenoor) se stemme smelt wonderlik saam en hulle het onder andere Francois Fourie se Daarom en Josh Groban se You raise me up mooi en gevoelvol vertolk.
Dit was ’n plesier om na dié twee musikale kunstenaars te luister en hulle kan dit gerus oorweeg om ’n CD te maak.
Die konsert is geestig afgesluit met samesang, afgewissel deur al die kunstenaars terwyl Susan Maré op die klavier en Japie Pienaar op die eufonium die begeleiding knap en inspirerend behartig het.
Die skrywer van hierdie resensie het nie juis saam gesing nie en net bly luister na die Oorwinningslied terwyl sy gedink het dit is voorwaar ’n stukkie hemel wat hier in die Anglikaanse kerk beleef word.
Wie nog nie hierdie maandelikse musiekprogram bygewoon het nie, is dit aan hulself verskuldig. Dit is ’n voorreg.
Dit voer jou weg van die negatiewe en vervul jou met vreugde en opgewondenheid oor die mooi wat mense op aarde aan mekaar kan gee.
TERUG
|