| |
Konsertgangers bederf met musiekkragtoer
Susan Maré
DIE Anglikaanse St. Augustine- kerk op Bethlehem se vierde musiekkonsert onlangs was ’n kragtoer op die klawers.
Sowat 120 meelewende konsertgangers was bevoorreg om ’n konsert te beleef met talent in ’n klas van sy eie wat raak-raak aan wêreldstandaarde. Die kunstenaars was Donvé Fullard, ’n bekende pianis van Langebaan in die Wes-Kaap en deesdae van Clarens, die 16-jarige pianis Willem de Beer van Bethlehem en die violis Wim Wybenga van Clarens.
Dit is die eerste keer nog dat só ’n konsert op Bethlehem aangebied is waar ook die visuele ingespan is – met die tegniese hulp van Nico Schutte. Konsertgangers was onder meer bevoorreg om beeldmateriaal van die voël- en dierelewe van Jamie Uys se Beautiful People op ’n vertoonskerm te volg – van humor in die bos tot angs om oorlewing – terwyl musiek (klavier) die aksies op die skerm geïllustreer het.
Willem laat klavier bloed sweet
Die konsert het begin met De Beer wat sy staal en musikaliteit ten beste getoon het in twee kontrasterende werke. In Variasies in C van Mozart (Twinkle, twinkle, little star) het hy sy aanvoeling vir dié komponis se werk getoon met fyn toongradering en sensitiewe dinamiese kontraste wat noodsaaklik is vir Mozart se musiek. Daar was dartelende lopies wat hy deurgaans tegnies uitstekend beheer het.
Ná Mozart het Slavecka se Toccata gevolg en het De Beer in hierdie baie kontemporêre werk, wat vir die meeste konsertgangers miskien vreemd op die oor sou val, maar hulle vir seker sou interesseer, die regopklavier in die Anglikaanse kerk laat sweet. Dit was ’n formidabele vertoning van tegniek en krag. Die klavier het egter ook sy staal getoon, want die snare is nog heel! Komplimente aan sy leermeester, Ashant Peuris van Pretoria, wat hom leer hoe om klawers met krag en die regte aanslag te hanteer sonder om enige finesse prys te gee. Hierdie beskeie jong leerling van die Hoërskool Voortrekker is vir ’n groot musiekloopbaan bestem.
The Animal Concerto
The Animal Concerto is nie vir sissies nie. Fullard het ’n formidabele repertoire gekies om uittreksels uit Jamie Uys se rolprent Beautiful People oor die voël- en dierelewe ryklik met musiek te illustreer. Sy het ’n toegewyde en briljante kragtoer op die klawers gelewer en gewys dat sy ’n deurwinterde pianis is met ’n stamina wat getuig van jare se oefensessies en uitlewing voor ’n klavier.
Die veelsydige repertoire wat die beeldmateriaal ondersteun het, het musiek van Mendelssohn, die temamusiek van The Piano, musiek van Scott Joplin en selfs ’n beweging uit die veeleisende klavierkonsert van die Armeense komponis Aram Katchaturian ingesluit.
Fullard het die eenvoudige regopklavier van die Anglikaanse kerk laat sing en kreun asof dit ’n blinkswart Steinway op Broadway is. Haar nederigheid en toeganklikheid as mens en kunstenaar is waarskynlik die rede waarom sy ’n lelike eendjie, ekskuus, ’n nederige regopklavier, kan bespeel totdat dit ’n singende swaan, ekskuus, vleuelklavier, word. Haar spel en tegniek verdien wyer blootstelling in Suid-Afrika en so ook die konsep van T he Animal Concerto. Dit is show business uit die boonste rakke – en Bethlehemse musiekliefhebbers was so bevoorreg om dit te kon beleef.
Wybenga het weer sy erns, toegewydheid en veelsydigheid as kunstenaar beklemtoon.
Hy kan nie net die viool met onderskeiding bespeel nie, maar onderskei homself ook as ’n fotograaf met ’n fyn oog vir landskappe.
An evening in the Village
An Evening in the Village is ’n versameling van sneeu- en landskapfoto’s wat op die skerm aangebied word met foto’s wat hy self geneem het. Wybenga en Fullard vang die atmosfeer van elke foto met musiek – viool en klavier – vas.
Die musiek is keurig saamgestel om die atmosfeer van die foto’s te komplementeer en al twee kunstenaars het die tegniese eise wat aan hulle gestel is soos ware professionele kunstenaars gehanteer en op hul onderskeie instrumente uitgeleef.
Van die fotografie was ook bydraes deur Niki Roy en Heidi Kapp terwyl uittreksels uit die natuurskoon van KwaZulu-Natal se Drakensberg-omgewing ook deur konsertgangers geniet kon word.
Die drie kunstenaars het inderdaad ’n musiekervaring nagelaat wat nog lank in die harte en ore van hulle sal klink wat so bevoorreg was om die konsert by te woon.
TERUG
|
|