Susan Maré REËN, reën! Van Januarie is dit op almal se lippe . 'n Geelperskereën sif saggies neer. April begin baie goed met sy bliknatdakke en waterbelaaide boomtakke wat strate nat drup, drup, drup. Die wêreld is toegetrek. Grys. Mistig. Dit het skielik koud geword. Herfs het begin knibbel aan die vel. Die een oomblik nog was dit swetend warm en toe ons weer sien, is die winter hier. Nou ledig die hemel hom vir die soveelste keer vanjaar. Saggies . ‘n Dag vir soet liedere in 'n knus kafee in Clarens. Vioolmusiek in die Rooiberge. Soet ariosos. Zanta Hofmeyr stel nie teleur nie. Haar meesleurende vioolmusiek en die geluid van die hemelwater wat op die sinkdak stukkend spat, vul mekaar aan. Dié winter begin met reën. Die nattigheid sal help dat die Lombardy-populiere vinnig vergeel en hul blare een-een laat af fladder totdat 'n dik mat op die grond vorm. Die jaar beur vorentoe. Paasfees verby en gou is dit weer Kersfees. Wat gaan tot dan alles gebeur? Wie gaan leef tot volgende jaar, wie nié? Waarheen is ons op pad? Maar vandag is al wat saak maak in die mooie Clarens. Op 'n reënerige middag soos dié val ou herinnerings uit grys wolkbanke. Ver verlangens word helder terwyl Händel deur Zanta se viool huil en ou onthoue opduik met die soetproe van koffie . Die growwe sandsteenkolosse is vandag skaars merkbaar . Druppels water wat teen ronde loodglasvensters spat, draal lui af teen die toegewasemde glas. Die viool se weemoedige melodieë draai, draai, draai. Klanke soos fluweel. Die strykstok bons nie vandag op snare nie, maar stryk sy hartseer langsaam uit: "Die wêreld draai, en ons draai saam; somers kom en somers gaan, en elke jaar kom daar nog iets by; dis jou eie skuld as jy agterbly. . . " Ja, die wêreld draai, en ons word ouer. Ons gryp hier, gryp daar. Soos kosmosblomme is ons vandag nog hier; môre is ons weg. Gister was geliefdes nog hier; vandag is hulle weg. Gister was snikheet en dor; vandag is dit nat. Dis genadereën wat nou hier val en die gehalte van genade, skryf Shakespeare in The Merchant of Venice, is soos reën wat saggies uit die hemel drup en op die aarde val: dit seën die Gewer, en ook hom wat ontvang. Reënseën op 1 April. En as die reën ophou, gaan die wêreld net weer aan. Die wêreld staan nooit stil nie, hou nooit op met stoei nie. Want dis 'n rondomtaliewêreld dié met 'n rondomtaliepas: hy draai, draai, draai. En jy draai saam. Uit: Sandsteenpraatjies, weeklikse rubriek in Vrystaat (Oos-Vrystaatse gemeenskapskoerant: Volkbslad-groep).
|

