Mensekinders eintlik vir ’n Hoër Gebou bestem


Susan Maré

DIS ’n winderige Sondag in die voorsomer van 2009. Die sandstene in die muur van ’n gebou wat as ’n nasionale gedenkwaardigheid in Suid-Afrika verklaar is, is in droewige gesprek met mekaar. Sake van die dag. Terwyl die wind om die hoeke van die gebou loei en depressiewe melodieë uitween met die rookwolke van veldvure op die horison.

Almal weet hoekom die wind hierdie tyd van die jaar móét waai, maar vandag slaan die wind yskoud teen onwillige sandstene vas. As hulle stene van vlees en bloed was, het hulle gebibber. Die wind en die seisoene is egter deel van hul langsame verwering op ’n aarde wat net tydelik gegrondves is.

Vir ’n leeftyd hou hulle die mense op die dorp dop wat naby hulle verbygaan. Soms met verwondering en verbasing. Soms met skok en teleurstelling. Soms met ’n glimlag. Ure lank bedink en bespreek hulle hierdie mensekinders se doen en late, en veral die woorde wat daagliks teen die mure van die gebou vasslaan. Woorde wat dikwels klein gevaarlike vlammetjies is wat groot vure veroorsaak en alles afbrand wat voorkom.

In 2009 is daar die gomsnuifer van Louw­straat, die karwag in Murraystraat en baie ander wat verby die ou sandsteengebou voortsnel na wie weet waarheen. Na skole, ondernemings en ander dorpe of stede. Vragmotors wat die dorp onvriendelik skel met vals toeters en ’n eiesoortige dreunmusiek maak wat geraas genoem word. Saans die baie karre by kuierplekke. Laataand mense wat effens onvas op hul voete uitkom, hul motors insukkel en dan brullend en dapper die strate inraas voordat hulle êrens by ’n huis tot noodsaaklike rus gaan kom om die volgende dag weer hul gewone dagtake met vaster tred te probeer aanpak. Vanaand kuier hulle maar weer en verdrink persoonlike probleme in ’n glas.

In bykans ’n eeu het die geluide wat die sandstene daagliks aanhoor, aangrypend verander. Eers het hulle geluister na die dowwe geluid van perdehoewe op grondstrate soos wat waens en kapkarre, getrek deur perde, van plase en ander plekke na die dorp gekom het. Later het hulle gewoond geraak aan die sagte geluid van motorenjins. Nog later aan die skel geloei van sirenes van noodvoertuie, op pad na ongelukstonele om lewens te probeer red.

Toe sê die sandstene vir mekaar: “Ons kom van die berge hier naby, van rotsagtige heuwelhange. Eeue lank het vuur en water op ons ingewerk en van ons kranse gemaak. Toe kom mensehande en het ons omgeskep in geboue waar mense kan aanbid, waar kindertjies gebore en grootgemaak word, waar handel gedryf word.

“Ons moes darem baie verduur het om in hierdie muur te kom. Kruit het ons geskeur tot in die hart, pikke het ons deurklief en gebreek en terwyl ons as vormlose klippe in die steengroef gelê het, is ons langsaam tot boublokke verwerk. Beitels is gebruik om al die fyn en ongelyke klippunte af te kap totdat ons afgerond en glad genoeg was om waardige hoekstene te word.

“Maar kyk net na die ellende van die mense hier om ons wat nog in die steengroef is. Vasgevang in die eise en politiek van die dag. Hulle het lankal vergeet dat hulle eintlik vir ’n Hoër Gebou bestem is. Vir ’n hemelse gedenkwaardigheid wat nie deur wind en weer verwoes kan word nie.

“Sal ons vir hulle bid?”


Die wind het nog vir dae en weke gewaai.

Op ’n dag het groot druppels reën op die aarde begin neerplof.

En skielik was dit weer somer

..............................................................................................................................................................

Bach bly besonders, al sê wie ook wat

Susan Maré

Ek wonder soms wat gaan nog van al ons Bach-mense word. In 2009 het daar wêreldwyd seker nie vyf mense oorgebly wat nog dink Bach se musiek is besonders nie. Die ander 95 het nie die vaardigheid of liefde om hierdie wonderlike komponis te waardeer nie.

En die arme skrywer van hierdie rubriek is een van daardie vyf skaars mense wat nog dink Bach is die grootste en beroemdste Springbok wat kerkmusiek nog opgelewer het. So veelsydig as wat kan kom. Soms is hy ’n Bryan Habana met vernuftige lopies en systappies op die orrel se manuale en pedale. Soms is Bach ’n Jean de Villiers wat die wonderlikste balle onderskep en doellyn toe hardloop teen die spoed van lig om verbeeldingryke drieë te gaan druk. Soms sak Bach soos Bismarck du Plessis af in die fuga van ’n stomende, ingewikkelde skrum.

Vir al hierdie lopies, systappies, onderskeppings en skrumwerk moet jy as musikant natuurlik topfiks wees en gereeld klawergim.

Onlangs op ’n Juanita du Plessis-konsert hier op Bethlehem kry die Here ook ’n beurt op haar program. Allerwonderlikste gospelliedere. En sy sing daardie songs opreg en met oorgawe. Voortreflik. Dit raak harte, lig hande, beweeg voete, bring trane in oë. Saam met Juanita vlieg die gehoor hoog, laag, skuins.

En daar sit Kiepie Bach met droë oë en stil voete, dood soos oorlede Lot se vrou. ’n Pienk roos op ’n rooi hoed in ’n oorverdowende geraas van basklanke wat ’n mooi sangstem behoorlik verinneweer en viktimiseer. Die tromme op die backtrack is so geweldig bas dat ek vir ’n oomblik daar naby die reuse-luidsprekers wonder of my hart dit ooit die aand gaan hou só doef dit in my borskas.

Die twee klankmense is salig onbewus. Hulle skuif heeltyd knoppies op en af en jy kan sien hulle werk regtig hard. Partykeer vat Juanita aan haar oorbel en kyk vir hulle, maar hulle het nie ’n saak nie.

Wat hulle dink, is dit wat ek op my sitplek hoor: hoe meer bas, hoe meer doef, hoe minder stem.

Ja, daar sit Kiepie die pyporrelis. Een van die talle verwerptes wat vir sekulêre musiekorkeste in kerke moes plek maak. Met R100 armer vir ’n kaartjie en besef dit is dalk beter om wonderlike Juanita liewer op ’n CD te beleef. Kiepie se konsertmaats dink nie dieselfde nie. Hulle is in vervoering.

Kiepie kom laat die aand by die huis. Uitgeput, gedreineer. Staan voor die CD-rak en bekyk die Bach-afdeling.

Minute later sak Kiepie terug in ’n leunstoel om te herstel met ’n paar van Bach se Brandenburg-konserte.

Hulle kan nou maar van ou Bach sê wat hulle wil, maar hy bly bobaas.

..............................................................................................................................................................

Die Boytjie van Bethlehem se blaf is stil

Susan Maré

TIEKIE. Boytjie van Bethlehem. Voorheen van Gariepdam. Stouter se kind. Seker die beste en skerpste kruising tussen ’n foxterriër en ’n Jack Russell. Die afgelope ses jaar was hy deel van my huishouding hier op Bethlehem.

Die 13-jarige erfhondjie het ná my pa se dood sy bekende en geliefde huis op die Gariepdam verlaat en sy laaste aftreejare in die Oos-Vrystaat kom deurbring.

Nie ’n slegte aftrede nie, as ek hom baie dae so bekyk en beluister het. Altyd energiek. Fiks. Atleties. ’n Uitmuntende gimnas. Klipharde beenspiertjies. Vriendelik. Hartlik lief vir die lewe en mense.

Hier op Bethlehem was daar vir hom ’n nuwe tuin om sy eie te maak waarin hy sy bene ongemerk kon begrawe. Daar was ook nuwe en gawe bure vir wie hy elke dag kon gaan kuier.

Dit is veral oom Oostewald en tannie Bok Immink na wie hy gevlug het wanneer sy huismense hom gefrustreer het of as die weer swaar was met niemand tuis nie. Vir hulle was hy “Ou Seun.”

Vir Charlotte Roets, sy buurtannie aan die ander kant, was hy altyd “Tiekieeee...” met ’n spesiale liefdestoon in haar stem. Inderdaad ’n hondjie wat diep spoortjies in mense se harte getrap het.

Die Boytjie van Bethlehem het hom veral as waghond uitgeleef. Snags het sy skerp oortjies nie die sagste voetstap in die straat sonder ’n skerp geblaf laat verbygaan nie.

Met sy rumatieklyfie het hy nog graag karre, motorfietse of sekere mense op fietse in die straat gejaag asof hy ’n jong hond was. Hulle moes vet gee om voor te bly. Sy jare lange gimnasium – die berg op die Gariepdam wat hy altyd soos blits kon uithardloop – het duidelik nog vrugte afgewerp.

Net ’n giftige bosluis sou hom eindelik van sy liefde vir die lewe kon beroof.

Die Boytjie van Bethlehem is nie meer met ons nie. Hier waar ek voor die rekenaar sit en sandsteen met ’n seer hart in ’n stil, blaflose huis, voel ek nog tasbaar hoe sy warm lyfie binne sekondes in my hande verslap het terwyl dr. Paul vir hom sy laaste genade-inspuiting gegee het.

Dit ná ’n nag van worsteling en moed en durf wat dit geverg het om hom vir oulaas na die dierehospitaal te neem.

Tiekie, ou seun, ons twee meisiekinders wat alleen oorgebly het in die huis, hierdie ene en Lisa die Engelse boel, is in diepe rou. Ons soek jou heeltyd. Jou spoortjies hier in die huis en in ons harte is nog warm en sal altyd wees.

Rus sag, my kampioen.

..............................................................................................................................................................

Sy fyn oor vir klank laat drome waar word

Susan Maré

DIE meeste ernstige musikante droom heimlik van daardie groot oomblik wanneer hulle hul eie musiek-CD kan vashou met hul hartsmusiek daarop verewig. Om daardie kosbare blink ronde skyf met jou eie musiek ’n werklikheid te maak is dalk meer bereikbaar as wat jy gedink het – die geheim is nie eens ver nie. Dit is nie doer bo in Johannesburg of daar onder in Kaapstad by die groot berg nie. Jy hoef maar net in Bethlehem rond te vra wie Francois (Bok) van Zyl nou eintlik is en waar presies hy sy klankopname-ateljee bedryf.

Lees meer >>

..............................................................................................................................................................

Gô vir ander dinge

Susan Maré

Soggens vroeg as ek rustig kantoor toe ry, wonder ek waar ek die pad byster geraak het.

Waar het ek die res van my ou hardlopende en stappende sportmalvolk verloor?

Dan sê ek vir myself: Hier sit jy heerlik en so ver as wat jy ry, kom hierdie vroegmôre-stappers met hul lenige lywe en swaaiende heupe by jou verby.

Lees meer >>

..............................................................................................................................................................

Gehalte Sondagoggendkonserte in Bethlehem

Eerste konsert op 1 Maart

LIEFHEBBERS van gehalte- klassieke en ander musiek kan nader staan. Gereelde Sondagoggendkonserte word van 11:30 tot 12:30 in die Anglikaanse Kerk- St Augustines in Bethlehem aangebied.

Susan Maré, orrelis van die kerk en direkteur van Pro Arte Produksies reël die konserte met die Anglikaanse Kerk as gasheer en die doel daarvan is om klassieke en ander goeie ligte musiek te bevorder. Die konserte bied aan Oos-Vrystaatse kunstenaars ‘n spesiale geleentheid vir optrede.

Lees meer >>

..............................................................................................................................................................

Applous vir `sterre' lig die dak

Susan Maré

MONTSERRAT CABALLÉ, daardie formidabele Spaanse sopraan en 'n interessante reïnkarnasie van haar oorlede vriend Freddy Mercury van die Queen-popgroep in Engeland het Vrydag- en Saterdagaand geskitter op die verhoog van 'n buurdorp.

Lees meer >>

..............................................................................................................................................................

Hemelse musiek deur natuur begelei

deur Susan Maré

BACH in 'n township op 'n reënerige aand in die Oos-Vrystaat. Die Klassieke Musiekfees in Clarens kon nie op 'n beter noot begin het nie as met Johann Sebastian Bach se Wysie op die G-snaar.

Lees meer>>

..............................................................................................................................................................

Ta' Grietjie gaan vir Mbeki 'koel' sing

Susan Maré

TANT GRIETJIE van Garies wil glo vandag -- as die Here haar lewe spaar en haar gesondheid hou - pres. Thabo Mbeki koel sing wanneer die president die dorpie Steinkopf besoek om daar te gaan imbizo (praat met die mense).

Lees meer >>

..............................................................................................................................................................

Mimi Coertse is soos rooi muskadel

Susan Maré

MIMI COERTSE laat 'n mens altyd aan rooiwyn dink. Soet en deurseënd. Rooi muskadel, sou ek sê.

Lees meer >>

..............................................................................................................................................................

Geelperskereën en Zanta maak musiek

Susan Maré

REËN, reën! Van Januarie is dit op almal se lippe . 'n Geelperskereën sif saggies neer. April begin baie goed met sy bliknatdakke en waterbelaaide boomtakke wat strate nat drup, drup, drup.

Die wêreld is toegetrek. Grys. Mistig. Dit het skielik koud geword. Herfs het begin knibbel aan die vel. Die een oomblik nog was dit swetend warm en toe ons weer sien, is die winter hier.

Nou ledig die hemel hom vir die soveelste keer vanjaar. Saggies . ‘n Dag vir soet liedere in 'n knus kafee in Clarens. Vioolmusiek in die Rooiberge. Soet ariosos.

Lees meer >>

..............................................................................................................................................................

Vokale potpourri ’n groot treffer

Alida Steyn

Die vokale potpourri onlangs in die Anglikaanse kerk St Augustine was weer ’n belewenis vir konsertgangers – ons het nou al gewoond geraak het aan dié maandelikse konserte.

Die musiekprogram van die maand in die Anglikaanse kerk in Louwstraat – ’n nasionale gedenkwaardigheid met sy loodglasvensters, sandsteen en brandende kerse – het ’n groot verskeidenheid gebied en die kerk het die perfekte atmosfeer verskaf.

Lees meer >>

..............................................................................................................................................................

Konsertgangers bederf met musiekkragtoer

Susan Maré

DIE Anglikaanse St. Augustine- kerk op Bethlehem se vierde musiekkonsert onlangs was ’n kragtoer op die klawers.

Sowat 120 meelewende konsertgangers was bevoorreg om ’n konsert te beleef met talent in ’n klas van sy eie wat raak-raak aan wêreldstandaarde. Die kunstenaars was Donvé Fullard, ’n bekende pianis van Langebaan in die Wes-Kaap en deesdae van Clarens, die 16-jarige pianis Willem de Beer van Bethlehem en die violis Wim Wybenga van Clarens.

Lees meer>>

..............................................................................................................................................................

Dié doopduet laat ore tuit

Susan Maré

Dit was Sondag omtrent 'n geween en 'n gekners van jong tandvleisies toe 'n halfdosyn babas in Panorama se NG kerk gedoop is. Sê doomnies Laurie Naudé vir die gemeente dit is die eerste keer in die geskiedenis van dié kerk dat ses kindertjies gelyktydig tot doop gebring word.

Daardie ooievaar is seker steeds kapot, maar julle moet sien hoe lyk die mammas met donker kringe om die oë – nog meer kapot. Te oordeel na die geween voor die preekstoel op 'n rustige Sondagoggend, wil ek nie weet hoe gaan die kleintjies snags tekere nie.

Lees meer >>