Bloemfontein Kinderkoor Die Bloemfontein Kinderkoor onder leiding van dr. Huibrie Verster (middel, agter) wat op 29 April saam met Chris Chameleon by Oranje Meisieskool in Bloemfontein optree. Pro Arte bied hierdie konsert aan in samewerking met Oranje Meisieskool. DIE Bloemfonteinse kinderkoor wat al wêreldwyd op koorkompetisies en –feeste gepresteer het, gaan op 29 April saam met Chris Chameleon sing tydens sy optrede by Oranje Meisieskool. Die koor van Oranje Meisieskool gaan ook saam met hom optree in ‘n voorprogram. Elkeen van die kore gaan ‘n kort individuele program lewer en ook individueel saam met Chris sing. Chris se eie volwaardige solo-vertoning volg na ‘n kort pouse. Sowel die kinderkoor as die meisiekoor van Oranje kan beskou word as twee van Suid-Afrika se top kore. Die kinderkoor is onder leiding van dr. Huibrie Verster, stigter, direkteur en dirgent, terwyl Brighitte Botha die meisiekoor van Oranje afrig en dirigeer. Die Bloemfontein Kinderkoor bestaan uit 60 tot 70 kinders tussen 8 en 17 jaar oud en het deur sy jare van bestaan ‘n nasionale sowel as internasionale reputasie van gehalte opgebou. Die koor is welbekend op radio en televisie in Suid-Afrika sowel as oorsee en het onder die vlerk van talle internasionale dirigente en saam beroemde kunstenaars as soliste uitgeblink. Die koor was die eerste multi-kulturele koor in Suid-Afrika en is op grond hiervan genooi om in 1997 in Stockholm aan die unieke International Children’s Choir Festival for Friendship saam met kore uit ander lande deel te neem. Die koor se reperoire bestaan uit gewyde en sekulêre musiek uit alle styltydperke en wissel van tradisionele klassieke musiek tot uitdagende kontemporere musiek, van jazz tot musiek wat die diverse inheemse kulture van Suid-Afrika uitbeeld. Altesaam 12 CD’s is al gemaak. Die koor toer dikwels oorsee en spog met verskeie prestige internasionale toekennings. Van die kunstenaars met wie die koor al opgetree het is Helmut Lotti tydens sy Suid-Afrikaanse toer in 1999 toe hulle ook ‘n lied saam met hom opgeneem het vir sy CD en video Out of Africa, Dana Winner in Belgie in 1998 en in Suid-afrika in 2001, Mimi Coertse, Laurika Rauch, Jannie Moolman, Nataniёl, Rina Hugo, Gloria Bosman, Loyiso Bala en vele ander. Die koor het ook verskeie kere voor presidente van Suid-Afrika en by prestige geleenthede opgetree. Onlangs is die koor deur die André Rieu-groep gevra om as enigste koor in Suid-Afrika deel te wees van die Rieu-toergroep en landwyd saam met hom op konserte op te tree. Die Bloemfontein Kinderkoor word deur Christo Janse van Rensburg begelei. .............................................................................................................................................................. Chris Chameleon - wesenlik anders
Verkleurman of diamant. Chris kan homself verkleur en kamoefleer soos niemand anders nie. Só hou hy die aandag van sy bewonderaars heeltyd gevange en laat hulle oor hom wonder. Dit is veral met sy toonsettings van Ingrid Jonker se gedigte dat Chris Chameleon wyer bekendheid as solo-kunstenaar bereik het. Sy loopbaan strek egter heelwat verder: hy is ook akteur wat reeds op 'n jong ouderdom met 'n DALRO-toekenning vir sy toneelspel ontvang het. Tussen 1990 en 2000 het hy in meer as 30 televisiereekse (onder andere Egoli, Konings, Sonkring, Glaskasteel) opgetree asook in films en videos. Gelukkig het die musiekgogga hom gebyt en sedertdien is hy die plofbare voorsanger en baskitaarspeler vir die bekende 'monki punk' trio Boo! Chris se solo-vertonings is elke keer iets om oor huistoe te skryf. Met sy eiesoortige, uitsonderlike styl en vermoë om gehore te bekoor het hy sy gehore gou in sy hand. Op 29 April gaan hy op 'n konsert by Oranje Meisieskool uniek saamspan met twee bekende kore in die stad - die bekende Bloemfontein Kinderkoor van sowat 50 lede (?) en ook die Oranje Meisieskool-koor met meer as 80 lede. Die kore is onderskeidelik onder leiding van Huibrie Verster en Brighitte Botha. Hierdie voorprogram gaan uit die boonste rakke wees. Na pouse gaan Chris voort met sy gewone solo-vertoning. Hy het lank laas in Bloemfontein gesing en verdien 'n stampvol saal. * Die konsert begin om 19:30. Kaartjies is R100 by Computicket. Navrae kan gerig word aan Dries Kotze, produksiebestuurder van Pro Arte Produksies wat dié konsert aanbied, by 083-632-0297. .............................................................................................................................................................. Nataniël se vertonings altyd ‘toonomkrul-lekker’ DIE kunstenaar Nataniël, wat op Donderdag 15 April in Bethlehem en Vrydag 16 April in Sasolburg vir Pro Arte optree se stories is altyd toonomkrul-lekker. Só skryf Theunis Engelbrecht, bekende oud-Bethlehemiet, digter, joernalis en musiekresensent. Hy sê Nataniël se stories is skreeusnaaks en uiters oorspronklik.
Soveel van ’n verbeelding het ’n mens nog selde in hierdie land teëgekom. Sy gevatte satire en die katastrofale situasies wat hy skilder, laat ’n mens onwillekeurig aan Etienne Leroux op sy beste dink. En Pro Arte se span stem saam! Pro Arte en Nataniёl gooi vlerk oor dowe seuntjie Die konsert op Bethlehem is ten bate van die doofgebore seuntjie, Hanru Botes (18 maande) wat vóór sy tweede verjaardag in September ‘n groot operasie moet ondergaan wat sy ouers bykans R1 miljoen uit die sak gaan jaag. Die gemeenskap van Bethlehem het begin saamspan om geld vir die operasie te begin insamel.
Nataniёl wat ook SA se Kinderambassadeur is met ‘n hart vir kinders het dadelik ingewillig om teen ‘n baie spesiale kunstenaarsfooi vir Hanru se konsert op Bethlehem te kom optree onder Pro Arte se vlerk. Die konsert is op Donderdagaand 15 April om 19:30 in die skoolsaal van Voortrekker Hoёrskool en kaartjies is plaaslik te koop teen R100 by Libri en Pam Golding in die Metropolitansentrum. Navrae aan Dries Kotze by 083-632-0297. Nataniёl maak ook ‘n buiging in Sasolburg Kaartjies vir Nataniël se konsert op Sasolburg op Vrydag 16 April by die Hoёrskool Sasolburg het begin vlieg. Kaartjies is teen R100 beskikbaar by Computicket. Navrae kan aan Dries Kotze gerig word by 083-632-0297. .............................................................................................................................................................. Die Rupert Musiekstigting ondersteun Pro Arte OPWINDENDE nuus is vir musiekliefhebbers in die Oos-Vrystaat aangekondig. Dit is nie aldag dag ‘n simfonieorkes na Bethlehem gebring word nie. Die Laerskool Truida Kestell het in 2006 tydens hul blok- en panfluitorkes onder leiding van Jenny Reed se CD-bekendstelling die Johannesburge Simfonieorkes na Bethlehem gebring. Dit was egter ook die laaste keer dat musiekliefhebbers hier met ’n simfonieorkes-konsert bederf is. Pro Arte onderhandel nog met die Vrystaatse Simfonieorkes om na Bethlehem te kom en terselfdertyd na skole in die gemeenskap uit te reik om leerlinge só bloot te stel aan die instrumente en klank van ‘n klassieke musiekorkes. Die Oos-Vrystaat was nog altyd fyn ingestel op gehalte musiekbeoefening en is ‘n streek wat landwyd bekend is vir enorme musiektalent. Bethlehem het die afgelope paar jaar telkens die meeste deelnemers uit een plattelandse dorp in nasionale klavierkompetisies opgelewer.
CARYN REED (middel) wat in 2010 op Bethlehem ’n klavierkonsert saam met ’n simfonieorkes gaan uitvoer. Saam met haar is van links haar ma, Jenny, ‘n musiekonderwyser van Bethlehem, en Marthie Mynhardt, ‘n pianis van Kestell en die jong Caryn se klavierbegeleier met die uitvoering van klavierkonserte op Bethlehem. .............................................................................................................................................................. Bobby van Jaarsveld Bobby van Jaarsveld is sonder twyfel een van die opwindendste en talenvolle jong sangers wat die afgelope jaar die musiektoneel betree het. Met sy Hollywood-voorkoms en sterk stem het hy alles wat nodig is om `n superster te word. Bobby se debuutalbum, Duisend Ure, het in 2008 goue status bereik en sy nuwe album, Net vir Jou, is een van 2009 se opwindendste vrystellings.
Bobby het in 2006 die Huisgenoot Tempo-toekenning as beste nuweling gewen en is in 2007, 2008 en 2009 genooi om deel van Huisgenoot se glansryke Skouspel-konsert te wees. ............................................................................................................................................................. Naaimasjien, Prinsloo keer terug na Vrystaat AS jy nie verlede jaar op die Volksblad-kunstefees ’n kaartjie vir Sandra Prinsloo se eenvroutreffer Die Naaimasjien kon kry nie, is dit nou jou groot kans.
Die Naaimasjien, onder die regisseurshand van Hennie van Greunen, is uit alle oorde lof toegeswaai sedert dit ’n jaar gelede op die Suidoosterfees in Kaapstad gedebuteer het. Geen wonder dus dat dit verlede jaar met twee Kannas – vir gewildste stuk en beste aktrise – op die KKNK bekroon is nie en vanjaar wéér op die Suidoosterfees te sien is nie. .............................................................................................................................................................. Vier romantiese manne op Bethlehem
DIE gewilde groep Romanz het in Bethlehem voor 'n stampvol saal opgetree en talle harte gesteel. Van links is André Venter, Louis Loock, Susan Maré van Pro Arte, Dries Kotze, ook van Pro Arte, Burgerd Botha en Adam Barnard. .............................................................................................................................................................. Laurika staande toegejuig
LAURIKA RAUCH (middel) was die gaskunstenaar op Pro Arte-produksies op Bethlehem se vierde konsert vanjaar. Saam met haar is van links Clinton Waring, begeleier, Coenie Venter, wat behulpsaam was met konsertreëlings, Susan Maré, bestuurder: Pro Arte, en Dries Kotze, produksiebestuurder: Pro Arte. Pro Arte se volgende aanbieding is ’n vertoning van Nataniël op Saterdag 20 Junie en kaartjies is reeds beskikbaar by Libri en die Pam Golding Metropolitan-sentrum op Bethlehem. ............................................................................................................................................................... Kunstenaars in Anglikaanse Kerk PRO ARTE PRODUKSIES se gereelde oggendkonserte in die Anglikaanse Kerk St Augustines se doel is om aan plaaslike kunstenaars ‘n spesiale verhoog vir optrede te bied.
Die groep kunstenaars hier is van links Sampie van Vuuren (tenoor), Francois Fourie (tenoor), Anette Oosthuizen (sopraan), Jeannette Jacobsz (sopraan), Nellie Kotze (sopraan), Dricé Rossouw (sopraan), Japie Pienaar (Euphonium) en Jaritha Pienaar (sopraan). Almal is van Bethlehem.
KUNSTENAARS wat aan Pro Arte se maandelikse Sondagoggendkonsert in die Anglikaanse Kerk St Augustines op Bethlehem opgetree het is van links Adriana de Necker (dwarsfluit), Suzanne Lessing (viool) en Eunice de Villiers (orrel).
NOG kunstenaars van Bethlehem wat in die Anglikaanse Kerk St Augustines opgetree het, is van links Karien Collett (sopraan), Yente Potgieter (klavier), Maleeba Maleba (sopraan) en Steven Sacht-Luwes (klavier).
DIE kunste floreer in die Oos-Vrystaat met skitterende kunstenaars wat gereeld op Sondagoggend-konserte van die Anglikaanse Kerk St Augustines in Bethlehem optree. Kunstenaars wat onlangs daar opgetree het is van links Caryn Reed (klavier), Michela van Zyl (viool), Bernette Erasmus (begeleier), Hanmarié Lombaard (viool), almal van Bethlehem, Wim Wybenga (viool) van Clarens, Marthie Mynhardt, ’n begeleier van Kestell, en Corné Kotze, ’n begeleier van Bethlehem.
NICO HOOGENDOORN, bekende tromboonspeler en voormalige dirigent van die Vrystaatse Jeug-Blaasorkes, het in die Anglikaanse Kerk St Augustines onder die beskerming van Pro Arte Produksies opgetree. ............................................................................................................................................................... Donvé Fullard – a highly gifted pianist and artist from Clarens Donvé is a highly gifted and multi-facetted pianist who has been playing at concerts and venues from a very early age. She completed the Grade 8 Unisa practical examination at the age of 14 in Kroonstad and was soon afterwards invited to practicals with Mr Josias van der Merwe at the Pretoria Technicon. While studying for her B Mus degree at the University of Cape Town, she performed as cocktail pianist at the Cape Sun, Mount Nelson and President Hotels (1988-1992). During this period she obtained performers and teacher’s licentiates through the Trinity College of Music, London and Royal Schools of Music. From 2000 to 2002 she was involved in the production, hosting and performance of recitals and cabarets at Evita-se-Perron, Darling, and Lounge Theatre Productions in Langebaan. In 2005 her CD and DVD The Animal Concerto was launched, a piano interpretation of extracts from Jamie Uys’s acclaimed wildlife feature film Funny People and Beautiful People. Donvé performs extensively in a variety of styles to suit the occasion. She resides in Clarens, E-FS.
.............................................................................................................................................................. Gewilde Jannie Moolman sing in Bethlehem... Jannie Moolman, Suid Afrika se mees bekroonde en geliefde tenoor is hier om te bly en harte van oud tot jonk te verower. Hy slaag daarin om sy luiteraars op 'n epiese tog te neem - van sy sielvolle ballades van sy nuutste CD Ek kom Huistoe, tot immergewilde opera-arias, soos Nessun Dorma. Jannie het ook 'n ligter speelse kant en het gereeld sy gehore aan die skaterlag met liedjies soos Kat hom weer, Angelina/Zooma Zooma en Jan asseblieftog squeeze my. Nommers soos Josh Groban se Remember when it rained en Coenie de Villiers se Vir jou en tydlose treffers soos Torna a Sorriento en L'Hymne L'amour word almal ook 'n nuwe baadjie aangetrek en op sy unieke manier vertolk. Jannie tree gereeld op saam met sy gewilde violis-vrou, Annake de Villiers.
Hierdie paartjie maak 'n gedugte span uit op die verhoog wat altyd vir 'n
energieke en hoogs genotvolle uitvoering sal sorg!
Jannie sing op Donderdagaand 27 Augustus in Bethlehem by die Hoërskool Voortrekker en tree op saam met sy vrou, Annake, en drie Bethlehemse senior laerskoolkore. Kaartjies is R100 by Libri. 'n Beperkte getal van 100 koorouers- en koorlede kan elk 'n kaartjie koop teen die verminderde bedrag van R50 per kaartjie. Laasgenoemde kaartjies kan by die dirigente van die onderskeie kore - Esther Groenewald (Laerskool Truida Kestell, Bethlehem), Suzanne du Toit (Laerskool Graanveld) en Corne Kotze (Laerskool Jordania) - gekoop word. .............................................................................................................................................................. Die Randburg Mannekoor/Bethlehem Dorpskoor… In September gaan die Randburgse manne spesiaal na Bethlehem reis vir die uitvoering van ‘n konsertprogram. Hulle gaan die verhoog met die nuutgestigde Bethlehemse dorpskoor onder leiding van Corné Kotze deel. Die twee kore gaan ook gesamentlik optree. Oos-Vrystaters het hulle die afgelope dekades veral aan koormusiek verbind danksy die wonderlike werk wat die ontslape koorleier, Andries Wassermann, op Bethlehem en in die streek gedoen het.
.............................................................................................................................................................. Wim Wybenga – brilliant violinist from Clarens The very first function Wim ever played at was a gallery exhibition when he was 13 years of age. He began piano lessons at the age of 8 with Mrs Hettie Loedolff in Vanderbijlpark, Gauteng. At 10 he commenced with violin studies with Yana Lechtman in Sasolburg. In 1990 he performed at the Sasol outstanding pupil's awards concerts. The Unisa Grade 7 piano examination was completed in 1993 with distinction and in 1994, Unisa Grade 8 violin with distinction. During the same year he received full accolades from his school (Sasolburg High School) for music performance. From 1996 to 1999 onwards Wim studied at the North-West University and completed a BSc Botany and Geography degree in 1998. The Honours degree was completed in 1999 with distinction. During this period he took violin as an extra subject at the Potchefstroom University Conservatoire. In 1997 he received an award for composition from the FAK (Federation of Afrikaans Cultural Organisations). From 1990 to 1999 he served as first violinist in various orchestras including the Mbabatho National Chamber Orchestra. He's been teaching music in Bethlehem and Clarens since 2006. A member of the Potchefstroom Ensemble Symphony since 1997 and the Bethlehem Pro Arte Ensemble since 2009 as well as a member of the worship team at the Worship Center church in Bethlehem since 2005.
.............................................................................................................................................................. Martie Mynhardt – veelsydige, talentvolle musikant van Kestell Martie Mynhardt vertel van haar loopbaan as pianis en orrelis: Ek kom uit 'n musikale gesin waar ek van vyfjarige ouderdom bekende volkswysies op gehoor kon speel. Wanneer my susters hulle eksamenstukke klaar geoefen het, kon ek dit korrek naspeel tot almal se verbasing. My musiekloopbaan het begin by Prieska-skool waar ek Unisa se graad 8-eksamen voltooi het. Daarna het ek vir vier jaar by die Vrystaatse Universiteit musiek gestudeer en gespesialiseer in klavier onder die bekwame hande van Mev. Marie Wels. Ek het pyporrel geneem by prof. Deon Lamprecht. Na my studies het ek vir sestien jaar klavieronderrig gegee en daarna my vlerke gesprei deur meer te fokus op klavieruitvoerings, solospel en kamermusiek. In 2007 het ek 'n klassieke klavier-CD vrygestel wat groot sukses behaal. Van die snitte word gereeld op RSG se oggendstemming gehoor. Dit was 'n groot hoogtepunt vir my! Ek het in 2008 aan 'n TV-program deelgeneem en Jakkalsjol-trekklavier gespeel. Dit is hier op die platteland in Kestell en omgewing waar ek my musiekdrome kan uitleef. Mense geniet veral my tegniese vaardigheid, klaviersolo's en my rustige, musiekspel as agtergrondmusiek vir troues, onthale en ander funksies. Ek tree tydens musiekfeeste op en veral saam met Rian Ungerer en in die voorprogramme saam met Die Broers, Sunette Bridges, Lance James, en ander.
|



















